Shabbat Shalom! En Gelukkige Hanukkah!
Welkom by Parasha Miketz - Aan die Einde, hierdie week se Parasha.



Genesis 41:1 - 44:17


 *~Genesis Hoofstuk 41~*


Ná verloop van twee volle jare het Farao gedroom dat hy by die Nyl staan; 


en kyk, daar kom sewe koeie uit die Nyl uit op wat mooi van aansien en vet van vleis was, en hulle het gaan wei in die rietgras. 


En kyk, ná hulle kom daar nog sewe koeie uit die Nyl uit op wat lelik van aansien en maer van vleis was, en hulle het by die ander koeie op die wal van die Nyl gaan staan. 


En die koeie wat lelik van aansien en maer van vleis was, het die sewe koeie wat mooi van aansien en vet was, opgeëet. Toe het Farao wakker geword. 


En hy het weer aan die slaap geraak en nog ‘n keer gedroom; en kyk, sewe vet en mooi are skiet op aan een steel; 


en ná hulle spruit daar sewe are uit wat maer en deur die oostewind verskroei was; 


en die maer are het die sewe vet en vol are verslind. Toe het Farao wakker geword en kyk, dit was ‘n droom! 


Dié môre was sy gees onrustig, en hy het al die towenaars en al die wyse manne van Egipte laat roep; en Farao het aan hulle sy droom vertel, maar niemand kon dit aan Farao uitlê nie. 


Toe het die voorman van die skinkers met Farao gespreek en gesê: Ek moet vandag my sondes in gedagtenis bring. 


10 Farao was baie kwaad vir sy dienaars en het my in bewaring gegee in die huis van die owerste van die lyfwag, my en die voorman van die bakkers. 


11 En ons het in dieselfde nag ‘n droom gehad, ek en hy; ons het gedroom, elkeen ‘n droom met besondere betekenis. 


12 En daar was by ons ‘n Hebreeuse jongman, ‘n kneg van die owerste van die lyfwag—aan hom het ons dit vertel, en hy het ons drome vir ons uitgelê; aan elkeen het hy die uitlegging volgens sy droom gegee. 


13 En soos hy ons dit uitgelê het, so het dit gebeur—my het hy in my rang herstel, maar hom opgehang. 


14 Toe laat Farao Josef roep, en hulle het hom gou uit die gevangenis uitgehaal, en hy het hom geskeer en ander klere aangetrek; en hy het by Farao gekom. 


15 Toe sê Farao vir Josef: Ek het ‘n droom gehad, en daar is niemand wat dit kan uitlê nie; maar ek het van jou hoor verklaar dat jy ‘n droom net hoef te hoor om dit uit te lê. 


16 En Josef het Farao geantwoord en gesê: Niks vir my nie! ELOHIEM sal Farao ‘n gunstige antwoord gee. 


17 Toe sê Farao vir Josef: Kyk, ek het in my droom gestaan op die wal van die Nyl, 


18 en sewe koeie het uit die Nyl uit opgekom wat vet van vleis en mooi van uiterlik was, en hulle het gaan wei in die rietgras. 


19 En kyk, ná hulle kom daar nog sewe koeie op, skraal en baie lelik van uiterlik en maer van vleis; ek het soos hulle so lelik in die ganse Egipteland nie gesien nie. 


20 En die maer en lelike koeie het die sewe eerste vet koeie opgeëet: 


21 dié het in hulle maag ingegaan, maar ‘n mens kon nie merk dat hulle in hul maag ingegaan het nie; want hulle aansien was lelik soos in die begin. Toe het ek wakker geword.

 22 Daarna het ek in my droom gesien, en kyk, sewe vol en mooi are skiet op aan een steel. 


23 En ná hulle spruit daar sewe are uit wat dor, maer en deur die oostewind verskroei was; 


24 en die sewe maer are het die sewe mooi are verslind. En ek het dit aan die towenaars meegedeel, maar niemand kon my inligting gee nie. 


25 Toe sê Josef vir Farao: Die droom van Farao is een en dieselfde. Wat ELOHIEM van plan is om te doen, het Hy aan Farao te kenne gegee. 


26 Die sewe mooi koeie is sewe jare; en die sewe mooi are is sewe jare; die droom is een en dieselfde. 


27 En die sewe maer en lelike koeie wat ná hulle opgekom het, is sewe jare; en die sewe maer, deur die oostewind verskroeide are sal sewe jare van hongersnood wees. 


28 Dit is die woord wat ek tot Farao gespreek het: wat ELOHIEM van plan is om te doen, het Hy Farao laat sien. 


29 Kyk, daar kom sewe jare van groot oorvloed in die hele Egipteland; 


30 maar daarna sal sewe jare van hongersnood aanbreek, en al die oorvloed sal in Egipteland vergeet word, en die hongersnood sal die land verteer. 


31 En van die oorvloed sal in die land niks gemerk word weens dié hongersnood wat daarna sal wees nie; want dit sal baie swaar wees. 


32 En wat dit betref dat die droom twee maal vir Farao herhaal is—dit is omdat die saak deur ELOHIEM vas besluit is en ELOHIEM dit gou sal doen. 


33 Laat Farao dan nou uitkyk na ‘n verstandige en wyse man en hom aanstel oor Egipteland. 


34 Farao moet so maak en opsigters oor die land aanstel en in die sewe jare van oorvloed die vyfde deel hef van die opbrings van Egipteland. 


35 En hulle moet al die voedsel van hierdie goeie jare wat kom, versamel en onder leiding van Farao koring ophoop as voedsel in die stede en dit wegbêre. 


36 So sal dan die voedsel ‘n voorraad wees vir die land vir die sewe jare van hongersnood wat in Egipteland sal kom, sodat die land nie deur die hongersnood te gronde gaan nie. 


37 En die woord was goed in die oë van Farao en van al sy dienaars. 


38 Daarop het Farao aan sy dienaars gesê: Kan ons wel iemand vind soos hierdie man in wie die Gees van ELOHIEM is? 


39 En Farao sê vir Josef: Aangesien ELOHIEM dit alles aan jou bekend gemaak het, is daar niemand verstandig en wys soos jy nie. 


40 Jy moet oor my huis wees, en na jou bevel moet my hele volk hulle skik; alleen deur die troon sal ek groter wees as jy. 


41 Verder het Farao vir Josef gesê: Kyk, ek stel jou aan oor die hele Egipteland. 


42 Toe trek Farao sy seëlring van sy hand af en sit dit aan die hand van Josef; en hy het hom fyn linneklere laat aantrek en die goue ketting om sy hals gehang 


43 en hom laat ry op sy tweede rytuig; en hulle het voor hom uitgeroep: Pas op! So het hy hom dan oor die hele Egipteland aangestel. 


44 En Farao sê vir Josef: Ek is Farao, maar sonder jou mag niemand sy hand of voet in die hele Egipteland verroer nie. 


45 En Farao het Josef genoem Sáfenat-Panéag en aan hom Asenat, die dogter van Potiféra, die priester van On, as vrou gegee. En Josef het uitgetrek oor Egipteland. 


46 En Josef was dertig jaar oud toe hy voor Farao, die koning van Egipte, gestaan het; en Josef het van Farao af weggegaan en die hele Egipteland deurgetrek. 


47 En die land het met handvolle opgelewer in die sewe jare van oorvloed. 


48 Toe het hy al die voedsel van die sewe jare versamel wat in Egipteland gekom het, en voedsel in die stede weggesit—die voedsel van die land wat rondom elke stad was, het hy daarin weggesit. 


49 So het Josef dan ‘n baie groot hoeveelheid koring opgehoop soos die sand van die see, totdat hulle opgehou het om te tel, want dit was ontelbaar. 


50 En vir Josef is twee seuns gebore—voordat die jaar van hongersnood gekom het—wat Asenat, die dogter van Potiféra, die priester van On, vir hom gebaar het. 


51 En Josef het die eersgeborene Manasse genoem; want, het hy gesê, ELOHIEM het my al my moeite laat vergeet en ook die hele huis van my vader. 


52 En die tweede het hy Efraim genoem; want, het hy gesê, ELOHIEM het my vrugbaar gemaak in die land van my ellende. 


53 Toe het die sewe jare van oorvloed wat daar in Egipteland was, ten einde gekom, 


54 en die sewe jare van hongersnood het begin aankom soos Josef voorspel het. En daar was hongersnood in al die lande, maar in die hele Egipteland was daar brood. 


55 En toe die hele Egipteland honger gely en die volk na Farao geroep het om brood, sê Farao aan al die Egiptenaars: Gaan na Josef, doen wat hy julle sê. 


56 En die hongersnood was oor die hele oppervlakte van die aarde, en Josef het alles waarin iets was, oopgemaak en aan die Egiptenaars verkoop; en die hongersnood was swaar in Egipteland. 


57 En die hele wêreld het na Josef in Egipte gekom om koring te koop, want die hongersnood was swaar op die hele aarde.



 *~Genesis Hoofstuk 42~*


Toe Jakob merk dat daar koring in Egipte was, het Jakob aan sy seuns gesê: Wat kyk julle so na mekaar? 


En hy sê: Kyk, ek het gehoor dat daar koring in Egipte is; trek daarheen af, en koop vir ons daar koring, dat ons kan lewe en nie sterwe nie.

 
Daarop het tien van Josef se broers afgetrek om koring uit Egipte te koop. 


Maar Benjamin, die broer van Josef, het Jakob nie saam met sy broers gestuur nie; want hy het gedink: Altemit kan ‘n ongeluk hom oorkom. 


So het die seuns van Israel dan gekom om koring te koop onder diegene wat daar aangekom het; want daar was hongersnood in die land Kanaän. 


En Josef was die maghebber oor die land, hy wat aan al die mense van die land koring verkoop het; daarom het die broers van Josef gekom en hulle voor hom met die aangesig na die aarde gebuig. 


Sodra Josef sy broers sien, het hy hulle herken maar hom vreemd teenoor hulle gehou en hulle hard aangespreek en vir hulle gesê: Waar kom julle vandaan? En hulle antwoord: Uit die land Kanaän om voedsel te koop. 


En Josef het sy broers herken, maar húlle het hom nie herken nie. 


Toe dink Josef aan die drome wat hy aangaande hulle gedroom het; en hy sê vir hulle: Julle is spioene, julle het gekom om te kyk waar die land oop is.

 
10 Maar hulle het hom geantwoord: Nee, my heer, maar u dienaars het gekom om voedsel te koop. 


11 Ons is almal seuns van een man, ons is eerlike mense; u dienaars is geen spioene nie. 


12 Toe sê hy vir hulle: Nee, maar julle het gekom om te kyk waar die land oop is. 


13 En hulle antwoord: U dienaars is twaalf in getal, ons is broers, seuns van een man in die land Kanaän; en kyk, die jongste is nou by ons vader, maar die een is daar nie meer nie. 


14 Toe sê Josef vir hulle: Dit is wat ek julle gesê het: Julle is spioene! 


15 Hieraan sal julle getoets word: so waar as Farao leef, julle sal hiervandaan nie trek tensy dat julle jongste broer hierheen kom nie. 


16 Stuur een van julle, dat hy julle broer gaan haal, maar júlle moet in die gevangenis bly. So sal dan julle woorde getoets word, of die waarheid by julle is of nie. So waar as Farao leef, julle is spioene! 


17 Daarop het hy hulle saam drie dae lank in bewaring laat hou. 


18 En op die derde dag sê Josef vir hulle: Doen dit, dan sal julle lewe; ek vrees ELOHIEM! 


19 As julle eerlike mense is, laat een van julle broers gevange bly in die huis waar julle in bewaring is; maar gaan júlle, bring die koring vir die honger van julle huisgesinne weg, 


20 en bring julle jongste broer na my toe—dan sal julle woorde waar gemaak word, en julle sal nie sterwe nie. En hulle het so gedoen. 


21 Toe sê hulle vir mekaar: Voorwaar, ons boet nou vanweë ons broer, omdat ons die benoudheid van sy siel gesien het toe hy ons gesmeek het en ons nie geluister het nie—daarom kom hierdie benoudheid oor ons. 


22 Daarop antwoord Ruben hulle: Het ek nie vir julle gesê nie: Besondig julle nie aan die seun nie? Maar julle het nie geluister nie. Kyk, so word dan ook sy bloed geëis. 


23 En hulle het nie geweet dat Josef dit verstaan nie, want daar was ‘n tolk tussen hulle. 


24 Toe draai hy hom van hulle af weg en ween. Daarna het hy na hulle teruggegaan en met hulle gespreek; en hy het Símeon onder hulle uitgeneem en hom voor hulle oë gebind. 


25 Daarop gee Josef bevel om hulle sakke vol koring te maak en elkeen se geld weer in sy sak te sit en om aan hulle padkos vir die reis saam te gee. En so is aan hulle gedoen. 


26 En hulle het die koring op hulle esels gelaai en daar weggetrek. 
27 En toe die een sy sak oopmaak om sy esel in die herberg voer te gee, sien hy sy geld; en kyk, dit was somaar bo in sy sak! 


28 En hy sê vir sy broers: My geld is teruggegee; hier lê dit dan ook in my sak! Toe het hulle hart hul begewe, en hulle draai verskrik na mekaar toe en sê: Wat het ELOHIEM ons nou aangedoen? 


29 En hulle het by hul vader Jakob in die land Kanaän gekom en hom alles vertel wat hulle wedervaar het en gesê: 


30 Die man, die heer van die land, het ons hard aangespreek en ons vir spioene van die land gehou. 


31 Maar ons het aan hom gesê: Ons is eerlike mense, ons is geen spioene nie. 


32 Ons is twaalf broers, seuns van ons vader; die een is daar nie meer nie, en die jongste is nou by ons vader in die land Kanaän. 


33 Daarop het die man, die heer van die land, aan ons gesê: Hieraan sal ek weet dat julle eerlike mense is—laat een van julle broers by my bly; en neem vir die honger van julle huisgesinne en trek weg, 


34 en bring julle jongste broer na my toe; dan sal ek weet dat julle geen spioene is nie. As julle eerlike mense is, sal ek julle broer aan julle teruggee, en julle mag in die land rondtrek. 


35 En toe hulle hul sakke leegmaak, was elkeen se bondeltjie geld daar in sy sak! En toe hulle hul bondeltjies geld sien, hulle en hul vader, was hulle bevrees. 


36 Daarop sê Jakob, hulle vader, vir hulle: Julle beroof my van kinders. Josef is weg! En Símeon is weg! En Benjamin wil julle wegneem! Alles is teen my!


37 Toe spreek Ruben sy vader aan en sê: U kan my twee seuns doodmaak as ek hom nie na u terugbring nie. Vertrou hom aan my toe, en ék sal hom na u terugbring. 


38 Maar hy sê: My seun sal nie saam met julle aftrek nie, want sy broer is dood, en hy het alleen oorgebly; en as ‘n ongeluk hom oorkom op die pad wat julle sal gaan, dan sal julle my grys hare met kommer in die doderyk laat afdaal.



 *~Genesis Hoofstuk 43~*


En die hongersnood was swaar in die land. 


En nadat die koring wat hulle uit Egipte gebring het, opgeëet was, sê hulle vader vir hulle: Gaan koop vir ons weer ‘n bietjie voedsel. 


Toe het Juda hom geantwoord: Die man het ons uitdruklik gewaarsku en gesê: Julle sal my aangesig nie sien as julle broer nie by julle is nie. 


As u ons broer saam met ons stuur, sal ons aftrek en vir u voedsel koop; 


maar as u hom nie stuur nie, sal ons nie aftrek nie; want die man het aan ons gesê: Julle sal my aangesig nie sien as julle broer nie by julle is nie.

 
Toe sê Israel: Waarom het julle so verkeerd teen my gehandel deur die man te vertel dat julle nog ‘n broer het? 


En hulle antwoord: Die man het uitdruklik na ons en ons familie gevra met die woorde: Lewe julle vader nog? Het julle nog ‘n broer? Toe het ons hom dit te kenne gegee volgens hierdie woorde. Kon ons dan ooit weet dat hy sou sê: Bring julle broer af? 


Daarop sê Juda aan sy vader Israel: Stuur die seun saam met my; dan sal ons klaarmaak en wegtrek, sodat ons kan lewe en nie sterwe nie—ons en ook u en ons kinders nie. 


Ek sal vir hom borg wees; van my hand kan u hom eis. As ek hom nie na u bring en voor u stel nie, sal ek lewenslank teenoor u skuldig staan. 


10 Ja, as ons nie getalm het nie, waarlik dan was ons nou al twee maal terug. 


11 Toe het Israel, hulle vader, vir hulle gesê: As dit so is, doen dan dit: neem van die opbrings van die land in julle sakke en bring vir die man ‘n geskenk af—bietjie balsem en bietjie heuning, speserye en gom, neute en amandels; 


12 en neem dubbel soveel geld met julle saam en bring die geld wat weer bo in julle sakke gesit is, met julle saam terug. Miskien was dit ‘n vergissing. 


13 En neem julle broer—maak julle klaar en gaan terug na die man. 


14 En mag EL SHADDAI, julle barmhartigheid verleen by die man, sodat hy julle ander broer en Benjamin saam met julle kan laat trek! En ek—as ek van kinders beroof is, dan is ek beroof. 


15 Daarop neem die manne dié geskenk, en hulle neem dubbel soveel geld saam met hulle en ook Benjamin, en hulle het klaargemaak en na Egipte afgetrek en voor Josef gaan staan. 


16 Toe Josef Benjamin by hulle sien, sê hy aan die opsigter oor sy huis: Bring die manne in die huis en slag slagvee en maak dit gereed, want die manne moet vanmiddag by my eet. 


17 En die man het gedoen soos Josef beveel het, en die man het die manne in die huis van Josef gebring. 


18 En die manne het gevrees, omdat hulle in die huis van Josef gebring is, en gesê: Ter wille van die geld wat die vorige keer in ons sakke teruggekom het, word ons ingebring om ons te oorrompel, ons te oorval en ons as slawe te neem, saam met ons esels. 


19 Daarom het hulle nader gekom na die man wat oor die huis van Josef was, en met hom gespreek by die ingang van die huis 


20 en gesê: Ag, my heer, ons het die vorige keer net afgetrek om voedsel te koop, 


21 maar toe ons in die herberg kom en ons sakke oopmaak, was elkeen se geld bo in sy sak—ons geld volgens sy gewig—en ons het dit saam met ons teruggebring. 


22 Ons het ook ander geld saam met ons afgebring om voedsel te koop. Ons weet nie wie ons geld in ons sakke gesteek het nie. 


23 Toe antwoord hy: Vrede vir julle! Moenie bang wees nie! Julle ELOHIEM en die ELOHIEM van julle vader het julle ‘n skat in jul sakke gegee. Julle geld het by my gekom. Daarop het hy Símeon na hulle uitgebring. 

24 En die man het die manne in die huis van Josef gebring en water aan hulle gegee, en hulle het hul voete gewas; hy het ook hulle esels voer gegee. 


25 En hulle het die geskenk reggemaak teen dat Josef die middag sou kom, want hulle het gehoor dat hulle daar brood sou eet. 


26 Toe Josef dan in die huis kom, het hulle vir hom die geskenk binnegebring wat by hulle was, en hulle voor hom neergebuig na die aarde toe. 


27 En hy het hulle na hul welstand gevra en gesê: Gaan dit goed met julle ou vader van wie julle gespreek het? Leef hy nog? 


28 En hulle antwoord: Dit gaan goed met u dienaar, ons vader; hy lewe nog. En hulle het hul eerbiedig neergebuig. 


29 Toe slaan hy sy oë op en sien sy broer Benjamin, die seun van sy moeder, en sê: Is dit julle jongste broer van wie julle met my gespreek het? Daarop sê hy: Mag ELOHIEM jou genadig wees, my seun! 


30 En Josef het gou gemaak, want sy binneste was ontroerd oor sy broer: hy het geleentheid gesoek om te ween en in die kamer gegaan en daar geween.

 
31 Daarna het hy sy gesig gewas en uitgekom en hom bedwing en gesê: Bring die ete op! 


32 Toe bring hulle dit vir hom besonders op en vir hulle besonders en vir die Egiptenaars wat by hom eet, besonders; want die Egiptenaars mag nie saam met die Hebreërs eet nie, omdat dit vir die Egiptenaars ‘n gruwel is. 


33 En hulle het gaan sit volgens sy bepaling, die eersgeborene na sy eersgeboorte en die jongste na sy jonkheid. Toe kyk die manne mekaar verbaas aan. 


34 Hierop het hy aan hulle porsies uitgedeel van die ete wat voor hom staan; maar die porsie van Benjamin was vyf maal groter as die porsies van hulle almal. En hulle het gedrink en saam met hom vrolik geword.



 *~Genesis Hoofstuk 44~*



Toe gee hy bevel aan die opsigter oor sy huis en sê: Maak die sakke van die manne vol met lewensmiddele soveel as hulle kan vervoer, en sit elkeen se geld bo in sy sak; 


en my beker, die silwerbeker, moet jy bo in die jongste se sak sit saam met die geld vir sy koring. En hy het gehandel volgens die woord wat Josef gespreek het. 


Toe dit die môre lig word, het hulle die manne laat trek, hulle met hul esels. 


Hulle het uit die stad uitgetrek, hulle was nog nie ver nie toe Josef aan die opsigter oor sy huis sê: Maak jou klaar en jaag die manne agterna; en as jy hulle inhaal, vra hulle dan: Waarom het julle kwaad vir goed vergelde?


Is dit nie die ding waaruit my heer drink en waarmee hy altyd waarneem nie? Julle het verkeerd gehandel met wat julle gedoen het. 


En hy het hulle ingehaal en hierdie woorde aan hulle meegedeel. 


Toe sê hulle vir hom: Waarom spreek my heer sulke woorde? Dit is ver van u dienaars om so iets te doen. 


Kyk, geld wat ons bo in ons sakke gevind het, het ons uit die land Kanaän aan u teruggebring hoe sou ons dan silwer of goud uit die huis van u heer kan steel? 


Dié een van u dienaars by wie dit gevind word, moet sterwe; en ons sal ook my heer se slawe wees. 


10 Toe sê hy: Nou goed, laat dit wees soos julle gesê het. Dié een by wie dit gevind word, is my slaaf. Maar júlle sal vry wees.

 
11 Daarop het hulle gou elkeen sy sak op die grond neergesit en elkeen sy sak oopgemaak. 


12 En hy het gesoek; hy het begin by die oudste en opgehou by die jongste; en die beker is in Benjamin se sak gevind. 


13 Toe skeur hulle hul klere, en elkeen laai sy esel, en hulle gaan na die stad terug. 


14 En Juda het saam met sy broers in die huis van Josef gekom, terwyl hy nog daar was, en hulle het voor hom neergeval op die grond. 


15 Daarop sê Josef vir hulle: Wat is dit nou wat julle gedoen het? Weet julle nie dat ‘n man soos ek dit ongetwyfeld moet waarneem nie? 


16 En Juda antwoord: Wat kan ons aan my heer sê? Wat kan ons spreek? En waarmee kan ons ons regverdig? ELOHIEM het die ongeregtigheid van u dienaars uitgevind. Kyk, ons is my heer se slawe, ons sowel as hy by wie die beker gevind is. 


17 Maar hy sê: Dit is ver van my om dit te doen; die man by wie die beker gevind is, dié sal my slaaf wees. Maar trek júlle in vrede op na julle vader.